Jaco, alias Prof, Fouché

As ʼn professor en programleier vir Bestuursrekeningkunde by die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), beskik Prof oor verskeie professionele kwalifikasies, insluitende Geoktrooieerde Rekenmeester (CA(SA)), Gesertifiseerde Finansiële Beplanner (CFP) en Gesertifiseerde Aftree-afrigter (CPRC). Hy het ook ʼn meestersgraad in Finansiële Bestuur en ʼn doktorsgraad in Rekeningkunde-onderrig. Met meer as twee dekades se onderrigervaring op verskeie vlakke van kompleksiteit is hy vereer met verskeie uitnemende opvoeder- en aanbiedertoekennings, insluitende die beste dosenttoekenning by die NWU, die KPMG beste aanbiedertoekenning by die SAAA nasionale konferensie en ʼn HELTASA-toekenning. In 2022 het hy sy NRF-gradering as ʼn navorser in Rekeningkunde-onderrig en Persoonlike Finansies ontvang.

Sy verantwoordelikhede sluit ondermeer in die aanbieding van die gevorderde Bestuursrekeningkunde module op honneursvlak en Finansiële Strategie op meestersvlak. Sy huidige navorsing fokus op Rekeningkunde-onderrig, Persoonlike en Gedragsfinansies.

Prof is ʼn direkteur by Jenwil BlueStar Finansiële Adviesdienste. As ʼn finansiële adviseur spesialiseer hy in beleggings en spesifiek in aftree-beplanning. Hy was ʼn Top 10-adviseur in die Noordwesprovinsie in beide 2021 en 2022, en het die toekenning vir beleggingskampioen in 2022 ontvang.

 

Jaco Barnard

Jaco Barnard is ʼn senior lektor en vakhoof van Bestuursrekeningkunde by die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). Hy is ʼn Geoktrooieerde Rekenmeester (CA(SA)), ʼn finalis van die Geoktrooieerde Instituut van Bestuursrekenmeesters (CIMA) en het ʼn B.Com Honneurs in Rekeningkunde (CTA) behaal. Jaco het ook ʼn nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (PGDFP). Sedert hy in 2004 by die NWU aangesluit het, het Jaco op verskeie vlakke van kompleksiteit in die vakgebiede Bestuursrekeningkunde en Rekeningkunde klas gegee. Gedurende sy tyd by die NWU het hy ook talle top dosenttoekennings ontvang. Jaco en Prof het al etlike finansiële kursusse saam ontwikkel en aangebied, en Jaco weet darem so bietjie meer van Excel as Prof!

Jaco se akademiese CV is aansienlik korter as Prof s’n, en dit is dan ook die rede waarom hy nie die titel “Prof” waardig is nie! Hy is darem heelwat minder van ʼn “nerd” as Prof (rekenmeesters is maar almal inherente “nerds”) en bietjie meer gebalanseerd. Jaco is ʼn kranige sportman en neem veral deel aan ultra-marathons, hetsy op die pad of in die berge. Hy het al verskeie Comrades en Two Oceans marathons voltooi. Jaco hou baie van vakansie hou en hoe meer afgeleë en in die boendoes, hoe beter! Een van Jaco se grootste prestasies is dat hy dit reggekry het om Prof meer vakansie te laat hou, iets waarvoor Prof se vrou, Susan, Jaco ewig dankbaar sal bly.

 

Erica Derbyshire

Erica Derbyshire is ʼn Geoktrooieerde Rekenmeester (CA(SA)) en dinamiese senior lektor wat passievol daarna streef om uitnemendheid in onderrig en leer, navorsing en innovasie, en gemeenskapsbetrokkenheid by die NWU te bereik. Haar onderrig- en velde van kundigheid sluit oudit, bestuur, risiko en besigheidsetiek in. Haar navorsingskundigheid sluit in finansiële geletterdheidsopvoeding sowel as die bestuur en etiek van klein- en mikro-ondernemingseienaars.

Oarabile Manyaapelo

Oarabile Manyaapelo is ʼn Geoktrooieerde Rekenmeester (CA(SA)) en Geregistreerde Ouditeur (RA). Sy ervaring sluit in finansiële uitvoerende rolle in vervaardigingsentiteite sowel as rolle in die akademie. Hy is die hoof van die Kleinsake Advies Buro, verbonde aan die Besigheidskool van die NWU. Oara is ook ʼn stokperdjieboer.

Johanna Manyaapelo

Johanna Manyaapelo is ʼn dinamiese dosent by die NWU Besigheidskool met meer as 10 jaar ondervinding in die dosering van Rekeningkunde en Besigheidsbestuur vir voorgraadse studente. Sy is passievol oor die bevordering van akademiese ontwikkeling en die sukses van haar studente. Sy is ʼn beginner-navorser in Persoonlike Finansies en mede-outeur van verskeie akademiese publikasies in Rekeningkunde-onderrig.